Monday, July 30, 2007

waar’s my boesman kinderdae?

ek sit op ‘n bank
dis ‘n bank uit my kinderjare
die reuk van mango’s en pynappels in die lug
‘n nuwerwetse wasmasjien raas in die hoek
die stywe spiere in my bene pyn lekker,
na gister se draffie.
dis ‘n bedompige oggend
en soos die Boesmans -
na die Westerlinge hier in getrek het -
het ek geen grond van my eie.
die eggo van wat ons van hul weg gesteel het
spoel deur die werklikheid van my nou hier wees.
ek bly hier by familie,
slaap op die sitkamer vloer,
op ‘n metras wat ek saans - na die TV afgesit is -
uitgrawe en na onder toe dra.
ek leef uit my tas
en het min ruimte
vir my vol hart
vir my ongetemde self
om in asem te haal

©Sjaka S. Septembir, Januarie 2005, Somerset-Wes – Gepublish in Spilpunt